19 Januarie 2026
Deur Janice du Plessis

Terwyl kommer oor die gehalte van kraanwater wêreldwyd toeneem, word gebottelde water toenemend as die veiliger uitweg beskou. Nuwe navorsing dui egter daarop dat die werklikheid heelwat meer ingewikkeld en veel minder gerusstellend is as wat verbruikers moontlik vermoed.

Bekende handelsmerke onder die vergrootglas

’n Omvattende navorsingsverslag wat onlangs in die vaktydskrif ScienceDirect gepubliseer is, verwys na tien van die bekendste handelsmerke van gebottelde water wat onder die vergrootglas geplaas is.

Deur van gevorderde toetstegnieke gebruik te maak, het navorsers vir 64 spesifieke ontsmettings-neweprodukte gesoek en 50 daarvan vir die eerste keer in gebottelde water geïdentifiseer.

Openbare kommer oor die veiligheid van drinkwater is reeds groot, veral omdat mense al hoe minder vertroue het in hoe waterstelsels bestuur word, selfs in hoogs ontwikkelde lande. Foto: Getty Images.

Bevindinge bevraagteken bestaande aannames

Bengt Rittri, stigter en uitvoerende hoof van Bluewater, ’n internasionale maatskappy wat spesialiseer in watersuiwering en drankies, meen die bevindinge skud die fondamente van wat mense oor gebottelde water glo.

“Hierdie bevindinge skep ernstige vrae oor die algemene aanname dat gebottelde water altyd suiwerder as kraanwater is. In baie gevalle is dit bloot munisipale kraanwater wat verder verwerk word. Wat veral kommerwekkend is, is nie net dat hierdie chemiese neweprodukte voorkom nie, maar hoe groot die verskille is tussen handelsmerke – en selfs tussen verskillende bottels van dieselfde produk,” sê Rittri.

Vorming van skadelike neweprodukte

Hierdie sogenaamde ontsmettings-neweprodukte vorm wanneer stowwe soos chloor, chloramiene of osoon met natuurlike organiese materiaal in water in verbinding kom.

Hoewel reguleerders slegs ’n klein aantal van hierdie verbindings monitor, het navorsers reeds meer as 700 geïdentifiseer. Van baie daarvan weet wetenskaplikes nog betreklik min en die moontlike langtermynuitwerking op menslike gesondheid bly grootliks onbekend.

Toenemende kommer oor drinkwater

Openbare kommer oor die veiligheid van drinkwater is reeds groot, veral omdat mense al hoe minder vertroue het in hoe waterstelsels bestuur word, selfs in hoogs ontwikkelde lande.

Dit blyk ook uit ’n internasionale ondersoek wat in 2024 deur navorsers van onder meer die Universiteit van Wes-Engeland (UWE Bristol), die Northwestern-universiteit, die Universiteit van Noord-Carolina in Chapel Hill en die Universiteit van Suid-Kalifornië gedoen is.

Volgens die navorsing glo meer as die helfte van volwassenes wêreldwyd dat hul drinkwater hul gesondheid binne die volgende twee jaar ernstig kan benadeel.

Skokbevindinge

In die jongste laboratoriumtoetse het een verbinding veral kommer veroorsaak.

Dibromasetonitriel is in twee goedkoper winkelhandelsmerke gevind. Die stof is bekend daarvoor dat dit giftig is vir selle en selfs skade aan DNS kan veroorsaak.

Ook duurder produkte het vrae laat ontstaan. Een sogenaamde “ontwerperswater”, wat as UV-behandeld bemark word, het chemiese stowwe bevat wat gewoonlik net met chloorontsmetting verbind word.

Groot verskille tussen produkte

Rittri meen die gebrek aan konsekwentheid is een van die grootste probleme vir die verbruiker.

“Daardie veranderlikheid maak werklik saak. Dit beteken dat twee bottels met presies dieselfde etiket op die rak die verbruiker aan twee totaal verskillende chemiese profiele kan blootstel. Op die oomblik het die publiek bitter min kennis of keuse wanneer dit by hierdie chemiese samestellings kom,” sê hy.

Hoewel gebottelde water gemiddeld sowat 20 keer laer vlakke van hierdie neweprodukte bevat as kraanwater, het die navorsing getoon dat water wat as “gesuiwer” gemerk word – en dikwels van munisipale bronne afkomstig is – geneig is om hoër vlakke van hierdie stowwe te bevat as natuurlike bronwater.

Beroep op deursigtigheid

Rittri benadruk dat die doel van die navorsing nie is om verbruikers bang te maak nie, maar om hulle te bemagtig.

“Dit gaan nie daarom om paniek te saai nie. Dit gaan daarom dat mense ingeligte besluite kan neem. Ons moet besef dat gebottelde water steeds industrieel verwerkte water is, en dat die huidige regulasies eenvoudig nie tred gehou het met moderne wetenskap en die metodes wat vandag gebruik word om hierdie stowwe op te spoor nie.”

Hy benadruk dat die druk op openbare waterstelsels wêreldwyd toeneem, wat die behoefte aan beter behandeling en deursigtigheid ononderhandelbaar maak.

“Namate die druk op openbare waterstelsels toeneem, beklemtoon hierdie jongste bevindinge die dringende behoefte aan beter behandeling, duideliker etikettering en groter deursigtigheid van die vervaardigers.”

“Dit maak nie saak of water uit ’n kraan of uit ’n bottel kom nie; die verbruiker verdien om te weet wat die inhoud is.”

Kategorieë: SA-nuus, Verbruikersake

Tags:

webmaster

Website Administrator

See all author post

Leave a Comment

Your email address will not be published.

0